Woord In Aksie Leierskamp: 8-10 November 2013
Ons het die voorreg gehad om in November saam met die Woord In Aksie leiers in die sprokiesagtige omgewing van Cathedral Peak deur te bring. Wat maak so ‘n naweek buitengewoon? Is dit die pragtige omgewing? Is dit die heerlike weer? Is dit die wonderlike mense? Is dit die vrede? Is dit die stilte? Is dit die samehorigheid? Of is dit die eenparigheid, die onderlinge liefde en die tasbare teenwoordigheid van die Heilige Gees?
Om weg te kon breek van die oordowende geraas van die wêreld ongeag geestelike aanvalle en net te kon stilraak voor die Almagtige God, is iets wat mens maar net weer laat besef hoeveel die wêreld by ons kom steel. Om so in die grootsheid van God se skepping te kon staan, sit en stap, laat mens net weer met die gewaarwording van hoe groot Hy waarlik is, en hoe klein ons is. En hoe groot Sy liefde ongeag dit alles vir ons is. Om net weer opnuut te kon besef dat God se genade is elke dag nuut.
Ons was nie saam met vriende of mede-leiers nie. Ons was saam met ‘n geestelike familie. En as mens terugkyk, besef jy dat ons nie familie is omdat ons dieselfde van het of omdat ons saamstem oor alles of omdat ons dieselfde is nie. Nee – ons is familie omdat ons dieselfde Vader het. En dit gee vir ons dieselfde erfenis en dieselfde hartklop, al bly elkeen van ons uniek.
En wat wonderlik is, is die feit dat ons afsonderlik elkeen sy eie gawes het en mekaar sodoende aanvul. En waar is nou ‘n beter plek om dit te sien as op so ‘n naweek. Sonder dat dit nodig is om iemand te vra, word alles net eenvoudig gedoen. Ons vul mekaar so aan. Daar is heeltyd aktiwiteite, en dinge gebeur – sonder dat dit nodig is om iemand te vra of dat daar ‘n leier is wat heeltyd die sweep agter jou klap. Dit is soos ‘n liggaam waarin elke ledemaat net eenvoudig weet wat sy plig is, en dit goed doen.
Ek dink dit is juis hoekom ons in Woord in Aksie Natal so ‘n lekker span het. Net soos wat ons saamwerk in die kombuis of op ‘n terrein, net so werk ons ook saam op ‘n kamp en in bediening. Elke persoon het sy gawes en so vul ons mekaar aan. Die een sien nie die ander een meer of minder werd nie. Dit is soos ‘n masjien wat goed ge-olie is. En ek dink dit is wat Paulus bedoel in 1 Kor. 12 wat ‘n voorloper is tot 1 Kor. 13 wat gaan oor die liefde. Vers 19 sluit hoofstuk 12 as volg af: “As almal een lid was, waar sou die liggaam wees?”
‘n Goeie leier nie iemand wat voor loop nie. ‘n Goeie leier is nie iemand wat ander kan aanjaag nie. ‘n Goeie leier is iemand wat elke persoon tot sy maksimum kapasiteit en in sy sterk punte gebruik and daardie persoon so laat groei. En ek dink ons het so ‘n leier in Corrie. Hy kry nie mense om iets te doen nie. Nee, hy kry mense om in te koop deur sy aansteeklike entoesiasme en energie, en om dan eienaarskap te neem van sy deel. (Hy het ons almal selfs so ver gekry om meer as 10 kilometer te stap en dit dan te geniet ook nog!) Hy erken elke lid van hierdie liggaam, en hy laat elkeen toe om in sy gawes in te beweeg. En so groei ons saam.
Maar ek dink die kern van elke familie is die hartklop. En ek dink ons as geestelike familie het dieselfde hartklop. En daarom kan ons verby ons verskille en vooroordele kyk en kan ons aanbeweeg. Aan die einde van die dag gaan dit tog nie oor ons nie, maar oor die koninkryk van God. Dit gaan nie oor die berge of oor die mooi stroompies nie, maar oor die Skepper.
Die werk is baie, die oes is groot, en die arbeiders is min. En dit is vir my ‘n ontsaglike eer en voorreg om saam met die arbeiders in Woord in Aksie Natal aan die oes te werk. Waar ons saam bid, beweeg dinge – en dit word bevestig deur die getuienisse wat uit die kampe voortsprei.
Ons lag saam. Ons bid saam. Ons huil saam. Na so ‘n naweek is mens fisies moeg, maar jou gees is vernuwe en aan die brand.